Education: Extract from speech on the Debate on the State of the Province Address

Cathy Labuschagne

DA Western Cape spokesperson for Education of Western Cape Provincial Parliament

Extract from speech on the Debate on the State of the Province Address

Agbare Adjunk Speaker, die agbare Premier het in haar Provinsiale Rede uitgewys dat Suid-Afrika ‘n tekort aan vaardighede oftewel gegradueerdes het, wat met amper die helfte soveel beskikbare poste vir vaardige personeel oorsrky word[i]. Sy het verder ook genoem dat die enigste werklike hoop wat bestaan om die huidige vaardigheidstekort aan te spreek in ons eie provinsie vereis dat elke kind leer lees, skryf en somme doen[ii].

Die suksesse van die regering in die Wes-Kaap en die toewyding van die DA in regering om Suid-Afrika se grootste probleem, nl. Armoede, aktief te beveg is ooglopend wanneer die Wes-Kaap vergelyk word met die res van die land.

Agbare Adjunk Speaker, President Zuma spog kwansuis met ‘n verdubbeling in Graad R inskryfwings van 300 000 in 2003 tot 705 000 in 2011, maar lewer geen kommentaar oor hoeveel van dié leerders landwyd dit tot matriek haal nie[iii]. Onderwys statistiek toon dat meer as 1 miljoen kinders in Graad 1, in die jaar 2000, by skole ingeskryf is. Van dié, het 84 % dit tot in Gr. 7 gemaak, 496 090 het die Senior Sertifikaat Eksamen in 2011 afgelê, waarvan slegs 348 117 geslaag het. Slegs ‘n derde van die hoeveelheid leerders wat skool in die jaar 2000 begin het, het skool suksesvol voltooi.

President Zuma se gebruik van 2000 se statistiek is onsamehangend en verbloem die realiteit van ‘n onderwys stelsel in krisis en ‘n lafhartige nasionale leierskorps wat wegskram om foute te erken, met oplossings vorendag te kom, of hulself konkreet te verbind tot om resultate te lewer.

Dit is dus geen wonder dat die Minister van Basiese Opvoeding se deurbraakplan om aanspreeklikheid onder skoolhoofde te kweek met prestasie-ooreenkomste, gebaseer is op praktyke wat reeds suksesvol deur die DA in die Wes-Kaap geïmplementeer is[iv]. Dit is reeds hier bewys dat veranderinge en intervensies van nut is wanneer dit veranderinge in stelsels en strukture meebring en lei tot ? definitiewe verbetering in prestasies van leerders en onderwysers, met die finale resultaat ‘n verhoging in die matriek-slaagsyfer[v].

Agbare Adjunk Speaker, die regering het reeds sedert 2010 die Strategiese Doelwitte vir die Provinsie bekend gestel en elke jaar konkrete doelstellings nagejaag. So byvoorbeeld, is daar reeds in 2011 uitgebrei op die 10 punt plan om die toegang tot onderwys en die kwaliteit van onderwys in die provinsie te verbeter[vi].

Programme wat reeds uitgerol is bewys dat die benadering van “Beter Tesame” die DA-regering in staat stel om gelyke geleenthede aan almal in die Wes-Kaap te bied. Deur te verseker dat die befondsing effektief en doeltreffend aangewend word in areas waar dit die nodigste is, word verseker dat tot 40% van leerders in die Wes-Kaap ‘no-fee’ skole kan bywoon. In die Wes-Kaap word daar ses keer meer spandeer per kapita in Kwintiel 1 skole as in Kwintiel 5 skole. ‘n 46% verhoging in die begroting spesifiek op onderhoud gemik, verseker dat onderwys infrastruktuur behoue bly en verbeter word. Die investering in handboeke in die Wes-Kaap het reeds laas jaar verseker dat elke leerder in Gr. 2-7 ‘n wiskunde handbook ontvang. Daar is reeds ‘n verbintenis gemaak om te verseker dat oor die volgende drie jaar, elke leerder in Gr.1-12, die noodsaaklike handboek in elke vak sal ontvang wat hy of sy neem. Dit is ‘n verbintenis wat ongeëwenaard is in die land, ‘n verbintenis wat geen ander provinsiale regering waag om te maak nie aangesien dit vir sommige beter is om baie te praat, min te sê en nog minder te doen. In numeriese waarde beteken dit R466 miljoen rand wat spandeer word om te verseker dat geen leerder agter gelaat word nie. Verder, is daar verlede jaar reeds ‘n ekstra R54 miljoen begroot vir skoolvoedingskemas wat ‘n addisionele 78 000 leerders daagliks sal kan voed – meer as 420 000 leerders in totaal[vii].

‘n Nuwe projek wat hierdie jaar geloods is, het rugsakke vol noodsaaklike skryfbehoeftes onder die behoeftigste Gr. 1 leerders in die provinsie versprei. Die projek van R 3.2 miljoen verseker dat leerders, ongeag finansiële vermoë, wel oor die vermoë beskik om hul boeke veilig te vervoer en hul huiswerk te voltooi[viii].

Agbare Adjunk Speaker, die Premier het tereg in haar Provinsiale Rede verwys dat vordering alleenlik gerealiseer kan word deur die korrekte vennootskappe tussen die regering, die publiek, die burgerlike samelewing en onderskeie besighede te bewerkstellig[ix].

Die korrekte vennootskappe, in die vorm van prestasie-ooreenkomste, tussen die regering, skoolhoofde, kring- en distrik-bestuurders verseker die nodige aanspreeklikheid vir die uitkomstes wat gestel word. Die voortdurende opleiding en ontwikkeling van onderwysers in die provinsie asook die jaarlikse toetsing van gr. 3, 6 en 9 leerders is van die basiese vennootskappe wat gesmee word om die korrekte resultate te verseker. Die Wes-Kaapse skolewet wat in 2010 gepromulgeer en geïmplementeer is, verseker die korrekte vennootskap met die beheerliggaam van skole en die regering, waar die regte en mag van beheerliggame beskerm word en as konstante oorsig dien om die beste vir ons leerders te verseker.

Die verbintenis wat deur die Premier gemaak is om breëband toegang te verhoog, en die spesiale klem op toegang van skole, baan ‘n nuwe weg vir verdere vennootskappe om Inligtingstegnologie vaardighede onder leerders te kweek en uit te brei. Programme soos die byvoorbeeld Telematics en die uitrol van mobiele wetenskap klaskamers is verdere bewyse van hoe hierdie regering toegewyd is om saam beter geleenthede te skep. Op hierdie wyse is kwaliteit onderwys toeganklik ook in die armste gebiede sowel as die mees afgeleë gebiede.

Agbare Adjunk Speaker, daar is oor die afgelope twee jaar opgemerk hoe leerders vanaf ander provinsies, maar veral die Oos-Kaap, na die Wes-Kaap stroom om ‘n beter opvoeding te ontvang as wat tuis gebied word. Niemand kan hul blameer nie, die Wes-Kaap het weereens laas jaar getoon dat dit die beste resultate in die Nasionale Senior Sertifikaat Eksamen gelewer het met ‘n slaagsyfer van 82%. Die onderpresterende skole is met 60% verminder in 2011 vanaf 78 na 30 toe.

Die nasionale regering het die afgelope jaar weereens misluk om kwaliteit onderrig aan die meerderheid van ons land se jeug te verskaf ten spyte van ‘n ‘intensiewe fokus’[x] op opvoeding. So groot is die wanbestuur in die Oos-Kaap en in Limpopo dat verrigtinge amper tot ‘n stilstand gekom het in dié provinsies. Dieselfde onderwyswet geld in alle provinsies. Die probleem is dat kader-ontplooiing veroorsaak dat onderwys LUR’s nie toesien dat onderwysdepartemente en onderwysers nie verantwoordelik gehou word nie. Boonop help vakbonde soos Sadou nie om die probleem op te los nie, maar vererger die bestaande probleme tot krisis-situasies waar die leerders weereens die verloorders is[xi]. Ek doen ‘n beroep op alle vakbonde, veral Sadou, om dit hul taak te maak om hul te beywer vir die kwaliteit van onderwys opleiding en verbetering van stelsels. Die DA in regering in die Wes-Kaap het reeds getoon hoe dit suksesse in retensie en slaagsyfers tot gevolg het.

Nagenoeg 100 000 Gr 1 leerders het hierdie jaar hul opvoedkundige loopbaan begin en ten spyte van opportunistiese uitlatings tydens die Staatsrede, het die Premier nog ‘n verbintenis gemaak om leerder retensie te verhoog tot 90% in 2019. Dit beteken die regering sal nimmereinde werk om te verseker dat 90 000 leerders matriek haal in 2019 en boonop, sal die DA-regering bewys dat met die regte investering – veral waar dit nodig is – asook met die korrekte vennootskappe, is dit inderdaad beter saam.

Please share this...Email this to someonePrint this pageDigg thisShare on StumbleUponShare on RedditShare on TumblrShare on LinkedInShare on Google+Tweet about this on TwitterShare on Facebook

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *