Kragonderbreking Wys Gebreke Uit

GERDA MOOLMAN, LPW

DA NOORD-KAAP: BO-KAROO KIESAFDELINGSHOOF

Die Demokratiese Alliansie is hoogs bekommerd dat die toestand van die elektriese infrastruktuur op Warrenton veel te wense laat en selfs in talle gevalle lewensgevaarlik vir inwoners is.

Warrenton het op Vrydag, 25 Mei 2012, ‘n kragonderbreking gehad waartydens die hele dorp sonder elektriese krag was. Omrede die plaaslike munisipaliteit nie oor gekwalifiseerde elektrisiëns beskik om op hoogspanning kabels te werk nie, moes ‘n privaat elektrisiën ingeroep word om die probleem op te los. In die proses is ‘n aantal transformators gevind waarvan die olievlakke laer as die aanbevele merk was en moes die olie aangevul word. Hierdie is ‘n potensieël gevaarlike situasie, wat volgens ‘n bron daartoe kon lei dat die transformators ontplof met gevolglike konsekwensies.

Amptenare van die munisipaliteit het ook nie oor die nodige gereedskap of olie beskik om die nodige te doen nie, en gereedskap en olie moes by privaat persone geleen word.

Volgens raadslid Willie Potgieter van die DA, het hy gedurende Januarie 2012, in samewerking met n elektrisiën, ‘n ondersoek geloods na die toestand van alle substasies en transformators in die dorp en sy bevindinge aan die burgemeester, munisipale bestuurder, die direkteur generaals van die Noord-Kaapse wetgewer en die departement van arbeid bekend gemaak met die versoek dat aandag daaraan gegee word. Tydens die ondersoek was ernstige gebreke by 17 van die 18 substasies/transformators gevind.Tot dusver is nog geen transformator gediens nie, en is slegs oppervlakkige gebreke soos die aanbring van slotte aan hekke en skoffel van kampe rondom transformators/ substasies gedoen.

Transformators behoort ten minste jaarliks gediens te word, iets wat nie in Warrenton gebeur nie. In een geval is ‘n transformator gevind wat laas op 1 Oktober 1990 gediens was.

Kragtoevoer na alle inwoners is eers op Saterdag om omstreeks 18h30 tydelik herstel nadat n kabel wat opgeblaas het, gelas kon word.

Druk behoort op die munisipaliteit geplaas te word om hierdie situasie om te keer ten einde deurlopende kragvoorsiening aan inwoners te kan lewer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *