Ratelgat Erfenisterrein Onthul

Dr Ivan Meyer

Wes-Kaap Minister van Kultuursake en Sport,

Dit is vir my ‘n groot eer om julle vandag te kan toespreek by ‘n geleentheid waar die Griekwavolk die verjaarsdag van een van sy grootste leiers, Opperhoof AAS le Fleur II, herdenk en ook hulde bring aan die pionierswerk wat deur die dekades en eeue heen deur die oudstryders gedoen.

Vandag is ek dan ook hier om saam met u hulde te bring aan die gestorwe pioniers wat destyds onder uiters moeilike omstandighede op die plaas die Griekwa-kultuur en -tradisies laat voortleef het. Pogings is ook destyds aangewend om die gewoontes en gebruike wat deur kolonialisme vernietig of ernstig bedreig is, te laat herleef. Op so ‘n wyse is hierdie kosbare volkseie erfenis bewaar en behou vir die nageslag. Nes u, glo die Wes-Kaapse regering ook dat die voortbestaan van hierdie kultuurerfenis vir die toekoms verseker moet word.

Dit is verblyend om te verneem dat die gebou by die ingang van die plaas as ‘n toerisme en museum sentrum ontwikkel gaan word. Die vertroue word uitgespreek dat hierdie gebou met sy besondere argitektoniese styl ‘n uitstaande landmerk sal word wat almal graag wil sien. Inisiatiewe van hierdie aard behoort altyd aangemoedig te word. Op hierdie wyse kan ons eie inheemse kultuur, aan baie wat hiermee onbekend is, ‘n verrykende invloed hê en bydra tot die nasiebou program van die Departement van Kultuursake en Sport.

Suid-Afrika is ’n komplekse plurale gemeenskap en daarom is dit vir ons nodig om deur sterk simbole te kommunikeer. Die Grondwet van Suid-Afrika beklemtoon dat Suid-Afrika aan almal behoort en dat ons in ons diversiteit verenig is. Kulturele diversiteit beteken egter nie dat ons vasgevang moet word in etno-sentrisiteit nie. Om kulturele diversiteit te bevorder moet ons kulturele warmte uitstraal. Nelson Mandela het dit gedoen toe hy Betsie Vervoerd by haar huis in Oranje besoek. Hy groet haar in Afrikaans. Sy op haar beurt het hom ‘n koeksister en tee aangebied. Deur hulle aksies het albei van hulle kulturele warmte uitgestraal. Kulturele warmte is die grondslag van verbeterde mense verhoudinge en is die bousteen van nasiebou.

Die Wes-Kaapse Regering wil graag ’n Kulturele Erfenisroete langs die Weskus gevestig sien. Dit sal onder meer !Khwattu naby Yzerfontein, die Weskus Fossielpark in Langebaan, die ‘Living Landscapes’ Projek in die Sederberg asook Ratelgat insluit. Die Wes-Kaapse Departement van Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme moedig u aan om saam met Weskus Toerisme betrokke te raak by die ontwikkeling van ’n sakeplan wat kulturele toerisme in die Weskus sal bevorder.

Vandag word een van die jarelange versugtinge van die Griekwavolk eindelik gerealiseer. Vir die Griekwavolk is Ratelgat heilige grond, want dit is hier wat die gevierde leier, wyle Opperhoof Andrew Andries Stockenström le Fleur, beter bekend as Die Kneg, sy roeping van God ontvang het en vandag word hierdie einste terrein deur die onthulling van die Erfenis Wes-Kaap gedenkplaat wetlik gemerk as teken dat die “erwe van ons vadere” tot in ewigheid bewaar sal word vir die kindskindere van die nasate van pioniers wat vreesloos teen onderdrukkende maatreëls van die koloniale tydperk, sowel as van die onlangse politieke bestel standpunt ingeneem het, al het dit groot opoffering gekos. Die gevangenskap van Die Kneg in die Breekwatergevangenis in Kaapstad is alom bekend. Die gedenkplaat wat vandag onthul word, is die teken dat hierdie terrein beskerm word sodat die geslagte wat kom gedurig herinner sal word dat die vryhede van vandag geniet word, ‘n duur prys gekos het. Ratelgat is die derde provinsiale erfenisterrein wat in hierdie maand op hierdie wyse gemerk word. Verlede week by Community House in Soutrivier, is ? soortgelyke gedenkplaat onthul. Ook Community House is ewe-so ‘n baken van die vryheidstryd van ons mense. Ratelgat is een van weinige gedenkterreine wat die bydrae van die Khoekhoe, een van die eerste nasies in die Wes-Kaap gedenk, soos wat vandag tereg hier gesê is.

Soos in die geval van Community House, sal Ratelgat altyd die simbool wees van die pogings tot sosiale inklusiwiteit en om ‘n kollektiewe gees in ‘n verdeelde gemeenskap soos ons s’n te ontwikkel. Dit is die gees en bedoeling van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne. Die Wes-Kaapse regering en Erfenis Wes-Kaap het hom ten doel gestel om erkenning te gee aan alle terreine van erfenisbelang om te verseker dat dit verteenwoordigend sal wees van die verskillende mensegroepe in die Wes-Kaap en ‘n wanbalans, soos in die onmiddellike verlede, te vermy. Dit is welbekend dat die Griekwamense oor ‘n rykdom van mondelinge oorleweringe beskik. Pogings om hierdie mondelinge oorlewering op skrif te stel, sal ‘n groot bydrae lewer om meer te wete te kom van die bydrae van gemarginaliseerde groepe tot die geheel wat ons tans ervaar, in besondere die verkryging ons hedendaagse demokratiese bestel.

Mag die gebeure van vandag verseker dat hierdie belangrike erfenisterrein ‘n stap nader sal wees om Ratelgat sy regmatige plek te laat inneem in die diverse kulturele landskap van ons provinsie en op hierdie manier tasbare bewys wees van die vasbeslotenheid van om die ongelykhede van die verlede en met versoening aan te spreek. Dit is dan nou my voorreg om hierdie gedenkplaat te onthul dat elkeen wat hier verby gaan, die grootsheid van die voorsate van die Griekwavolk sal onthou en hulle opnuut sal verbind tot versoening tussen alle mense as deel van die pad vorentoe.

Ek sluit af met die woorde wat verskyn op die gedenksteen hier op Ratelgat, wat ter ere van die ontslape Opperhoof Le Fleur opgerig is om aan Die Kneg en sy pioniers hulde te bring.

Soos ‘n stil dorre woestyn lê jy daar Oor jou is geprofeteer, ja – en kyk hoe word alles waar Op 1 Mei 1999 het ons jou amptelik gekry Vir ons is jy kosbaar en ons harte juig so bly

Baie dankie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *