DA het vrae nadat nog ‘n huis tot op die grond brand

By Ted Hart, DA Hoofsweep, Matlosana, Klerksdorp:

Die Demokratiese Alliansie gaan skriftelike vrae in die Matlosana raadsvergadering ter tafel lê. Dit volg nadat nog ‘n woonhuis die afgelope naweek in Antonstraat, Wilkoppies afgebrand het.

Die brand het vrae laat ontstaan rondom die paraatheid en gereedheid van die Matlosana Stadsraad Brandweer-en noodienste om noodgevalle te hanteer.

Miljoene rande se skade is aan die spog-grasdakhuis aangerig en is die bewerings van omstanders dat die brandweer nie die brandkraan kon opspoor om die brand te blus nie.

Van die vrae wat die DA ondermeer sal vra is:

  • Hoeveel huise het die afgelope 36 maande in die Kosh-area afgebrand?
  • Hoeveel kommersiële eiendom het die afgelope 36 maande afgebrand?
  • Wat was die tydsverloop tussen die aanmelding van die brande totdat die brandweer op die toneel aangekom het?
  • Hoe gereeld word brandkrane, asook die noodpersoneel se toerusting en voertuie hersien en gediens?
  • Watter voorsorgmaatreëls is in plek indien brandkrane nie genoegsame water sou lewer om reusebrande onder beheer te bring nie?
  • Wanneer gaan die Stilfontein-en Hartebeesfontein Brandweerstasies weer toegerus en beman word?

Die DA sal nie skroom om alles binne sy vermoë te doen om die veiligheid van inwoners te verseker, spesifiek in noodsituasies nie.

Die dae van praat is verby en die munisipaliteit sal moet rekenskap lewer oor sy dienslewering aan die gemeenskappe waarin hy sy werk moet doen.