Boodskap deur Joe McGluwa, DA Provinsiale Leier tydens ‘n Boeredag in Noordwes op 18 Junie 2015

By Joe McGluwa, DA Provinsiale Leier:

Dit is ‘n groter uitdaging as ooit om ‘n boer in Suid-Afrika te wees. Die DA wil graag begin en julle eidereen bedank vir jul bydrae tot voedselsekuriteit in Suid-Afrika.

Die DA besef ons produsente word al hoe minder en moet oor groter hektare grond beheer neem om lewensvatbaar te kan boer. Ons verstaan hierdie druk, onsekere weersomstandighede, ‘n geskreeu oor grondgryp en geen subsidies vanaf die regering bring stres mee. Jul toegewydheid ten spyte van politieke en ekonomiese onstabliteite waarin julle daagliks die grond bewerk, word bewonder.

Die DA het reeds in Mei vanjaar ‘n beroep op die Minister van Landbou gedoen om sy beloftes aan produsente tydens die Graan SA-kongres in Maart vanjaar, na te kom.

Minister Senzeni Zokwana het aan julle, wat deur die ergste droogte in 22 jaar geraak word,  die regering se hulp en ondersteuning beloof. Min. Zokwana is bewus van die droogte in Noordwes en die Vrystaat. Hy het belowe dat sy departement die droogtegebiede sal besoek en ondersoek sal  instel om skade te bepaal. Die LUR vir Landbou Me Mankhetsi Thlape was ook teenwoordig en het na die produsente se vrese geluister.

 

Die Noordwes is deel van die provinsies wat die SA voedselmandjie vul en verantwoordelik vir voedselsekuriteit. Suid-Afrika kan nie bekostig om selfs ‘n enkel voedselprodusent te verloor nie en moet kommersiële produsente, soos in ontwikkelende lande, meer steun kry.

 

Die droogtehulp gedurende die afgelope jare, waar produsente slegs voldoende voer gekry het om hul vee vir enkele dae te voer, was totaal onvoldoende en word totaal oorskadu met die miljoene Rande wat aan die opening van die Wetgewer se prag en praal , an ander “stemwennende byeenkomste”  deur die NW regering vermors word.

 

Daar is produsente wat gaan uitboer en die impak hiervan het rimpelings. Elke boer wat sy plaas verloor, verloor ook sy werksmense en dit bring ook sosio-ekonomiese problem mee.  Die ontvolking van die platteland bring verdere armoede, werkloosheid en verval mee.

Die DA is bewus dat 132.8/100 000 boere jaarliks vermoor word. Vergelyk dit met die 31.3/100 000 polisiemanne wat jaarliks vermoor word. Dan is dit duidelik dis gevaarliker om te boer as om direk met kriminele te werk.

Volgens die SAPS het plaasmoorde sedert 2010 met 30% toegeneem. Dis ‘n risiko om te boer en word daar voorspel dat slegs 15 000 produsente oor 15 jaar in SA sal oor wees. Kosproduksie, werskepping en die voortbestaan van die platteland is dus in die spervuur.

Die DA wil graag sien dat ‘n gespesialiseerde taakspan vir landelike veiligheid binne die SAPD funksioneer en dat sogenaamde Landelike Reaksie-eenhede gereeld weerlose punte sal besoek en misdaad-hot spots sal patroleer. Die DA pleit ook dat landelike misdaad-intelligensie beter ingesamel en interpreer word.

En wanneer ons produsente nie agter hoe heinings en diefwering wegkruip nie, word hulle via die media in hul eie huise geteister met dreigemente oor grondgryp…

Die DA stel dit onomwonde dat die regering se grondshervormingsplan tot nou ‘n totale mislukking is. Hul 30% doelwit teen 2015 is ‘n droom. Nou wil hulle limiete op grondeienaarskap sit, maar die DA voel dat dit dan ook limiete op werkskepping en werksekuriteit plaas.

Die feit dat 92% van grondeisers eerder die geld as die grond verkies is ‘n duidelike hulproep dat die publieke deelname proses oor grondhervorming dringend hersien moet word (Amptelike 2013-statistiek).

Die DA staan vir ‘n BILLIKE, VRYE en gemeenskap vol GELEENTHEDE. Maar die antwoord is nie om getalle te jaag nie, maar grondhervorming meer effektief te doen met beter ondersteuning en opleiding aan opkomende/nuweboere.

En omdat die Noordwes uit so baie landelike gebiede bestaan onderneem ons om hierdie kwessies tot op Parlementsvlak te dryf en nie slap te lê op ons pogings om SA ‘n voorspoedige, veilige en ekonomies-aantreklike land vir beleggers te maak nie. Ons sal direk met Minister Nkwinti  hieroor in gesprek tree om seker te maak hierdie kwessies geniet aandag en dat ons nie saamstem met hul ondeurdagte populustiese uitsprake nie.